Chris Chameleon Het Baie Meer as Drie Vriende

My Woordfees het nie goed begin nie. Êrens by ‘n ander piekniekkonsert drie weke voor dit afskop, trap ek in ‘n wynglas (nugter, nie myne nie) en is immobiel vir minstens twee weke. Die noodlot gooi nog meer stokkies in my speke, want dan verstaan ek boonop nie die Woordfeesprogram op die webtuise nie en om in te ry vir die boekie … goeiste, dit beteken briek trap!

Tog, in die laaste dae van die Fees, bevind ek myself by Checkers met mossels in tamatiesous (winskoopprys) en ‘n pakkie groot pleisters in die hand, en onthou toe my vriendin se pleidooi, “Chris Chameleon tree op by Neethlingshof. Seblief, ons móét gaan!”

En hoe opgewonde was ek toe nie later nie, soveel so dat ek, na ‘n dag agter die boeke, soos ‘n tiener by ‘n One Direction-konsert vroeg met my vriendin by die wynplaas opdaag, my na heel voor op die gras voor die verhoog haas, en daar sorg dat daar nie plek is vir ‘n mede-feesganger met ‘n opslaanstoel voor ons nie. My eerste Chris Chameleon-konsert, uiteindelik.

Ek het nog altyd van sy musiek gehou. Van die dae in Gundulph Square in Kent se solderkamer tot Stellenbosch se wingerd-pondokkie. Oral het ek iets in sy musiek kon vind wat my laat luister. En my vriende weet … ek hou van iemand wat baie praat. En nog meer van iemand wat baie sê met gemete woorde en ‘n deuntjie daarby.

Eers sing Chris vir ons begelei met slegs sy kitaar. ‘n Tjorrel-jorrel hier en ‘n toere-loerel daar … en siedaar! Ons is betower … En dan verskyn die pragtige Daniella Deysel op die verhoog en die energie op die verhoog skuif merkbaar. Om so ‘n talentvolle duet-paar te sien optree is voorwaar ‘n voorreg! Ek sit (vervlakste voet wil nog nie rondspring nie) verstom. Wanneer sy die verhoog verlaat, nooi hy die gehoor om liedjies voor te stel. Wanneer laas het dit by ‘n fees gebeur? En ek skree toe maar ook, en sowaar … ek het hard genoeg geskree (geen voet daarvoor nodig nie) en hy sing my liedjie. Ek voel al hoe meer soos ‘n tiener.

Maar toe die aand op einde staan en die derde vriend ontbreek, wonder ek of dit maar net nog een van die program hierdie jaar se slaggate is: basiese Wiskunde … Daarin het immers gestaan: “Chris Chameleon in Drie Vriende”. En toe stel Chris vir Sarel Fourie aan ons voor. Ek het vroeër die week vir Theuns Jordaan al die pad tot by my stoep 5 kilometer verder die pad op van Neethlingshof gehoor en gedink ek sal ‘n plan moet maak. Sportwinkel met swempluisies. So iets.

Dankie Chris. Ek het lanklaas so baie gelag. Verlig dat ek nooit by die pluisies uitgekom het nie. Jy’t self gesê jy’s al 25 jaar in die bedryf. Dat jy jouself steeds nie ernstig opneem nie, maar dit met soveel talent en styl ook nog doen, laat my voel ek moet meer die tipe musiek en digkuns uitkrap wat Afrikaans so onvermybaar maak. Waar weet ek nie, maar ek vermoed ek het reeds onverwags begin.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s